Die Lekker Vakansie

2015-12-11 15.56.39.jpg

Desembermaande is gewoonlik werkstyd vir my man. Hy is ‘n Arbeidspraktisyn, en soos almal weet, verander persoonlikhede oornag tydens die Kersseisoen, veral onder werknemers, en uiters veral hier in Natal.

Nou hoe nou gemaak as jy elke Desember soos Kiepie die Hoender moet rondsit en nuttig wees? Jy maak ‘n plan, dis wat. En dis presies wat ek gedoen het. Ek het my verlof aangekondig (jip, ek het my man vertel ek hensop nou), en een van die tweeling se tjommies gebel. Toe ‘n pragtige verversingmandjie gepak, en afgesit swembad toe. Lekker man, lekker. Die kinders het geswem, en my uitgelos. Salig op my eie het ek deur die water gedryf, bakkend in die snikhete son…

Na die heerlike oggend, bel ‘n vriendin my. Sy en haar gesin gaan so ‘n week see toe, George toe, en sy wil weet of ek miskien lus is om bietjie by haar huis te gaan oorslaap en na haar Great Danes om te sien. O ja, voeg sy by, as ek lus is mag ek in die rondawel slaap. Jissie, hoe gelukkig kán ‘n mens wees??

Ek pak my tassies en my oudste dogter hare, en ons sit af na Vriendin se huis toe. Die een aand se oorslaap is heerlik, veral aangesien ons teen tienuur ‘n laaste draai deur die swembad gaan gooi het, en soos klippe geslaap het. Sy bel die volgende dag, en ekke bied gulhartig aan om die hele tydperk wat hulle op vakansie is, kywie te hou by hulle huis. So begin een van die lekkerste vakansies van my lewe.

2015-12-19 17.09.31

Wanneer laas het julle gratis vakansie gehou met ‘n bediende en ‘n tuinjong op diens? ‘n Kombuis wat jy mag gebruik (nee ek het nie), en beste van als, troetel-terapie-honde vir my kind. Wow. Hierdie vakansie was gestuur en beplan deur die Here.

Ousus skrop vir ons nes in die rondawel, haar ma swem soos ‘n uitgelate kind, en Shadow swem saam. Hy is so groot dat hy aan die diepkant van die swembad op sy agterpote kan staan, en sy neus steek steeds bo die water uit. Hierdie ma vervies haar vir taai sonbrandroom en gooi dit weg. Sy sal nié verbrand nie, sy doen iets goeds, sy kyk huis. So ‘n aksie moet geseënd wees. En waarlik, ek brand nie een keer seer nie, my man vermaan my net dat ek soos ‘n karwag lyk toe hy my vier dae later vir die eerste keer sien.

Ons gaan koop elke tweede dag vars vrugte en groente, en eet dit sommer met joghurt en doopsous. En so ‘n paar pakkies kouevleis, wat Mbali liefdevol vir ons in die miesies se yskas bêre. Wie worry oor fênsie kos op vakansie? As mens van daardie lekker Nescafé sakkies koffie het, en ‘n boks Ouma beskuit, het die hemel aarde toe gekom.

2015-12-23 12.03.23.jpg

Ons doen aerobiese wateroefeninge, drink liters water, en verloor sommer beide twee kilogram in die proses. En ook sommer alle mislikheid, stress en opgehoopte frustrasie van die jaar. Vir die eerste keer in twee en twintig jaar gun ek myself om ‘n simpel outydse Afrikaanse liefdesverhaal deur te lees (want ek glo as iets lees moet dit van ‘n leersame of opvoedende gehalte wees – eish pyn in die dinges né).

My tablet werk oortyd, en ek laai die Angry Birds speletjie af. Elke cheecky aap skiet ek glorie toe. Saans luister ons rustige musiek en kleur in, tot Ousus kla dat my Beethoven klink soos “spooky riller flieks”. Toe slaan ek maar oor Leonard Cohen toe. Sus druk haar oorfone ekstra diep in haar ore, en ons is elkeen salig op haar eie stasie. As ons moeg raak vir kunstig wees, gaan swem ons. Die twee honde en die kat kom slaap snags by ons, en ons ontspan.

n Ander vriendin se dogtertjie verjaar, en ons gaan gou oor om hallo te sê. Die partytjiegees van my vreeslik, en vir ‘n hele uur spring ek op ‘n draak-springkasteel wat vol seep gesmeer is. Dit maak die lieflikste bomme in die swembad, jy sien net water spat. My maagspiere is lam soos ek lag.

2015-12-22 12.44.55

Die tweeling stuur ‘n foto van hulle vakansie; hulle is saam met hulle pa wildtuin toe. Hulle het formidabele uitstappies, en ry perd.

2015-12-24 20.35.15

Laatmiddag drink ons koffie langs die swembad, en luister na die voëltjies. Dis verstommend hoeveel mens van die natuur mis, net omdat jy gewoond raak aan die daaglikse klanke van ‘n besige huisgesin. Dit word weer spesiaal om te voel hoe ‘n hond water uit jou hand oplek, mens raak weer bewus van ‘n koel windjie (ok, nou en dan) wat oor jou waai. Jy bêre jou karsleutels ver weg, los jou grimering by die huis, en kam jou hare as dit nat is en vergeet daarvan. Stort is net vir mense wat nie heeldag geswem het nie. Saans kom slaap die honde en Tommie, die Persiese kat, by ons.

Die beker van vrede en geluk is met ‘n ruim hand vir ons gegee.

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements

Anna

 

 

 

blom.png

“Anna, kyk,” het ek gesê terwyl ek ywerig gehelp het om wasgoed in die bad te trap.  Met my hand het ek oor my arm gestreel, sodat ek kon seker maak ek voel en sien reg. “Kyk, ek is wit en jy is swart.”

“Is nie,” het Anna terstond gestry. “”Jy is swart, EK is wit.”

My ma het die gesprek gehoor, en my vinnig kom uitpluk uit my seepskuim avontuur. “Liefie,” het sy dringend in my oor gefluister. “Die swartmense sal jou doodmaak as jy so praat. Hulle haat die witmense. ”

“Vir wat wil Anna my kop afkap?” het ek gewonder terwyl ek agter my ma aangestap het Biblioteek toe. “Kan sy nie sien nie”? Dit was 1974, die jaar voor graad een, en ek moes leer van kleure en blokke en vorms. Eintlik was ek nie regtig van plan om my dood te sukkel om dit te verstaan nie, wat my aanbetref het ek skool toe gegaan sodat ek self kon stories lees. As mens iemand anders moes vra, het die storie eers gekom nadat hulle klaar was met ‘n duisend-en-een dinge. So goed, ek het ingestem. Ek sal in die oggende skool toe gaan, maar ek gaan net om te leer lees. As ek klaar is, en weet hoe, kom ek terug na my veilige hawe. Geluk is selfbeskikking. Om beskuit te rasper oor jou tennisraket, en in die son op die blokkiesvloer te lê en eet. Want dan kan mens mooi sien watter blokkies is skeef of watter staan uit.

“Oppas!” roep my ma. Amper het ek reg voor ‘n motor ingeloop, want ek was besig om my hakskeen teen my voet te sit en in een streep te loop en balanseer. Die sonbesies het gesing, en ek wonder hoe sou ene lyk as ek dit net kon vang. Maar amper was ek nou plat, so dalk is dit beter om weer aan Anna te dink.

Anna is so rêrig. Sy sit op die asblikkie langs die stoof en eet mieliepap, en sy ruik na Vicks. As sy nie daar is nie, sit ek op dieselfde blik en voer my pop. Sing-sing. Haar lyf is pikswart, en dis eintlik wonderlik om te sien. Nou die dag wou sy gaan bad terwyl ek ook in die buitekamer was. Ek het help water indra in ‘n emmer, en toe baie hulpvaardig op haar bed bly sit om te kyk dat sy regkom. Sy het gesê ek moet liewer uitgaan, maar ek en Kleinboet wou kyk. Want hoe was ‘n mens sonder om te mors? Ma het ons daar kom uitpluk en ons boude warm gefoeter omdat ons vir ‘n kaal swart vrou gekyk het. Ons wou maar net weet of ‘n swart ma en ‘n wit ma dieselfde lyf het. Ma’s moet mos soos mekaar lyk?

Toe word Anna siek en sy bly lank weg. My ma vat ons dorp toe, en ons kry almal inspuitings by ‘n snaakse gebou waar mense in strepe sit en wag. Mens kry pienk goeters ook om te drink. Ons gaan huistoe, en ek wonder en ek wag dat sy terugkom.

En een wintersmôre is sy toe daar. Maer en dun, toegedraai in ‘n kombers. Sy sit op die asblikkie en drink koffie uit haar beker (wat myne was as sy smiddags huis toe is en ek “Anna-Anna” gespeel het.) Ma sê saggies ons moet ons hande was en nie aan haar goed vat nie. En ons moet uitgaan as sy hoes. Sy gee vir Anna nog ‘n laaste geldjie en sê sy moenie weer kom nie. En later sê sy vir ons dat Anna tering het, en huis toe gaan want sy moet hemel toe gaan.

Vandag is dit nog vir my wonderlik om in die onderdorp rond te loop. Ek druk geld in my broek, en slenter van winkeltjie na stalletjie. My siel is erens buite my lyf, en ek ruik hoender en gebraaide mielies. Die wonderlikste goedjies word te koop aangebied, en Afrika musiek bler eentonig. Eendag as ek geld het, gaan ek nog vir my so ‘n bont Zulu laslappie broek koop.

Bang? Nee wat, nou nog nie. Ek onthou ‘n sagte swart arm, bruin oë wat kinders se honger en dors sien, tee maak en broodjies smeer. Ek sien haar kyk na die kleinbasie en die kleinmiesie. My hart verlang na jou Anna. En jou reuk en die liefde van ‘n mens loop al agter my aan, vas op my spoor.

 

 

 

Maklik

10986833_741375769311399_6672047745926234445_n.jpg

Soms verlang mens net na die ongekompliseerdheid van jou kindertyd. Nie die feit dat jy sonder verantwoordelikheid was soos wat al die suur mense uitmaak nie, nee. Net na die vryheid om ongebonde jouself te wees. Die wêreld kan só gekompliseerd raak. Ek betrap myself al hoe meer dat ek dikwels plein ongeskik en onsosiaal word.

Ek mis die stilte van kindertyd – om droom-droom, in jou eie gedagtes versonke, by die agterdeur uit te loop en op jou maag op die varsgesnyde gras te val en dit in te asem. Om modderdamme en hoenderhokke te bou, salig en alleen, sonder om op te kyk en te worrie dat dit gaan reën. Om ‘n mier te eet omdat jy wonder hoe hy proe, en mielies in die inrypad te plant. Die gevoel van warm goue son op jou kroontjie, en die kielie van ‘n sweetdruppel van jou slape af tot onder jou ken.

Dis so salig om sonder verduideliking te kan lewe. Loop om die hoenderhok, en sien weggooi-eiertjies wat langsaan in die gras lê. Breek dit oop, en beskou ‘n dooie kuikentjie. Ontdek jou vorige begraafde, wat jy onder ‘n klip weggelê het, word nou deur wurmpies weggedra. Ruik die stof van lukwartbome, en druk suurlemoene stukkend op die doringdraad en suig die suur sap uit…

Wat gebeur met ons lewens? Wanneer begin die aandrang na verduideliking? Nog nooit was ek iemand wat daarvan gehou het om iets te verduidelik nie, nee. As daar wel ‘n krisis op hande is, sal ek dit gaan oordra aan iemand wat “one shot” die saak kan hanteer. Sonder onnodige komplikasies.

Ek mis die eenvoud, die voor-die-hand-liggende. Dis seker hoekom ek ‘n kanker het aan iemand wat wik en weeg. Voordele en nadele tel. Of mense wat vra “hoekom”. Of uitvra. “Wie het nou gebel? Wat het hulle gesê? Hoekom het hulle dit gesê? Wat maak jy daarvan?” Waarheid is, ek maak niks van niemand nie. Wat is, is. En wat was, sal weer wees. En daar is niks nuuts onder die son nie.

Hoekom belas mens jouself alles te weet? Hoekom bestaan nuuskierigheid? Waarom wil jy in beheer wees van die lewe, of bang word jy mis iets? “Involvement” laat jou dinge mis, ja. Jy mis uit op vrede want jy worrie oor goed wat jy nooit moes geweet het nie. Dit laat jou oop om mense te bespreek en oordele te vel oor situasies wat bokkerol met jou te doen het, en niks aan jouself gaan verander nie.

Vanoggend hoor ek sagte dreunings. Ek ruik die grondreuk van reën wat kom, ek eet chips want ek wil sout proe. Die vrede lê in my, en netnou, as dit reën, wil ek onder die eikeboom gaan staan en ‘n nat blaar teen my wang vryf. Daar is ‘n blou voëleiertjie in ‘n bekertjie op my kombuiskas,  ek wil hom in my hand hou terwyl druppels val op my gesig. ‘n Nat klippie in my kies druk en die reën en die aarde in my mond proe, met my hond op die stoeptrap ‘n beskuit deel, en sien hoe die water in strepe val.

Waarom, en Wie, het my vrede kom wegvat?

“To be or not to be”, sê Shakespeare.

My kind se bruin lyfie langs my, haar sagte hare oor my wang, haar stiltes en die “sit en kyk saam met jou”, dis vir my genoeg.

Ek wil weer word wie ek was.

 

 

 

 

Sakaboela

11921798_882509021840576_1796090405053156664_o

“Hou op luister na die doemprofete,” sê my bikertjom.

Met die grootste plesier.

Ek gaan pluk sommer ‘n boek van Nataniël uit die boekrak. Om sy goed te lees, is soos om op jou kop te staan. Mens sien die lewe sommer net geheel en al uit ‘n ander perspektief. So kom ek af op ‘n verhaaltjie, getiteld “Die doring” uit “Kaalkop 3”. Die man is ‘n oulike skrywer, hy sê dinge wat al lankal gesê moes gewees het. Die byvoegings is myne, ek assisteer graag filosowe.

“In ons familie is daar een tante (n paar doemprofete) wat anders is as as al die ander. Sy (of hy) is so mal soos ‘n stormwind, heeltemal op ‘n spoor van haar (hul) eie, gek soos ‘n los hondjie in ‘n park….

Jinne ek hou van hierdie stelling. Het julle al gesien hoe waai ‘n geheime wind dronk, mal mense rond? Alle geval, dit klink bekend. Ek het ‘n tannie wat net nie kan ophou praat nie, (erger as ‘n uitasem Toypom op TIK),’n oorlede oom wat sy eie valstande gekou het, en nog ‘n ou tannie wat op tee aangedring het, omdat mens die  voorreg gehad het om haar hare in te draai. Snaakse ou mense maak my bang, vrek bang, lewenslank al. Hulle en Chinese wat koekwinkeltjies het. Ok.

Hierdie vrou (man) maak moeilikheid sover as wat sy (hy) gaan….Ek dink nie (hulle) is of was boos nie, ek dink nie (hulle) is moedswillig of gemeen nie, ek dink net (hulle) ken glad nie iets anders nie, moles is (hulle) hartklop, ontevredenheid (hulle) asem, sonder dit is (hulle) niks. (Hulle) is deel van die groep wat op aarde is om families te verdeel, vriende te verniel, kelners te beledig, winkelassistente te laat bewe, bankklerke te laat ineenstort, en kollegas te laat bedank. Hulle kan fout vind waar daar niks, is, onweer voorspel sonder ‘n wolk in die lug, ‘n geskenk oopmaak sonder ‘n sweempie blydskap.

Het jy al die gevoel gekry, liewe leser, dat party mense eenvoudig net jou blydskap verander in ‘n hol kol, amper soos wanneer jy droom jy het lang swart beenhare op jou matriekafskeid gehad?

Aangaande die molesmakers, hulle ken ek ook. Die wat by jou kom skinder, en dan ander mense gaan vertel JY het by HULLE geskinder. Skoorsteenveërs se kinders.

Daar was so ‘n tante in ons familie ook, nou saliger. Sy kon nie verwerk dat haar man weggehardloop het, en dat my ouma (haar jongste sussie) met ‘n aantreklike, redelik welvarende man getrou het nie. Daar was nie perke aan die jaloesie nie. Sy het gelyk soos Ben Bapsie en Familie se Skoonma met die pirts-klein hondjie. As kind het ek deur die venster geloer om te sien hoe sy my Ouma paniekerig om die koektafel laat dwarrel het, en hoe my Oupa hom vreeslik vervies het vir almal se doodse vrees vir haar mond. Tant Isabella. Vreeslik gepas, sy was koningin Jesebel se Nemesis.

Elke familie het ook dié wat onbeheers skree vir donkerder mense wat loop langs die pad. Plein omdat hulle donker is. Mense wat in ‘n restaurant instap en ‘n paniekaanval kry omdat die kelner nie reeds die kos reg het voor hulle gaan sit het nie. Hulle het iets te sê oor elke mens wat vir jou snaaks, lief of dierbaar is, hulle “ontwind” in die tou by die bank, en kyk rond asof dit iemand anders was. Wees asseblief ten minste eienaar van jou eie gasse, is my leuse. Dis tog die begin van ‘n dapper, eerlike en onverskrokke gees.

Gee vir so ‘n doemprofeet ‘n present. Sonder sweem kom hulle terug met :”Oe vreeslik dankie vir die eetgoed, maar weet jy, op my ouderdom het ek nou skielik besef dit gee my gal.” Mens sê eerder nie hulle vraatsigheid gee jou ‘n galaanval nie, wie het ooit gesê als moet in een sitting opgeëet word? Dan volg hulle dit op met ‘n kla-sessie by ander noue familie, omdat jy te min geld aan hulle spandeer het. Ek het uit pure moedeloosheid vir ‘n klakous mooi toiletpapier gegee, (net sodat sy ook kon voel hoe dit voel om jou alie aan ‘n feetjie af te vee), toe ek hoor dit veroorsaak ‘n uitslag om dié deel van jou lyf wat mens liefs nie oor praat aan tafel of in ‘n fyn geselskap nie.

Jy kan maar weet hierdie aambei-lastiges is ook definitief altyd in die gesig gevat deur ander skadelose mense. Sonder uitsondering. Selfs na afloop van ‘n massa-begrafnis, of  as die Pous sou kom kuier. Want het niemand dan gesien hoe so-en-so nie van hulle hou nie, of hulle opinie belaglik gemaak het, of hulle eenvoudig ignoreer het??

Die duiwel kom fluister  in my oor, en, ontvanklik en desperaat wat ek is onder sulke onwelriekendee omstandighede,  luister ek. So plaas ek toe sommer ‘n foto op my whatsapp met die leuse: “If you love somebody, set them free. If you hate them, also set them free. Basically set everyone free and get a dog. People are stupid.”

Laat ons dit vandag bevestig, swart op wit, elke familie het ten minste een moeilike wese… Een ongenadige onmoontlike wese wat alles bederf, spanning veroorsaak, brûe verbrand, vasskop, rem en oordeel. Waar kom hulle vandaan? Wat maak hulle so? Word hulle nooit moeg nie? Is hulle dalk gestuur? Hoe kruip ons weg? Kan ‘n mens ooit ontsnap?”

As kind het ek eendag met groot entoesiasme aangekondig dat ek ‘n wetenskaplike gaan word. “O,” het my ouma gesê. “My kind, nee, ‘n mens moet báie slim wees om ‘n wetenskaplike te word.” Doef, daar val my droom deur sy eie proefbuis. Vinniger as wat my stiefnefie se chloor-en tamatiesousbom sy ma se wasgoedpaal uitgeskiet het.

‘n Wyle later het Buck Rogers en Twiggy hulle buiging gemaak op Saterdagaand televisie. Die buiteruimtelike wesens in die storie was  (vir daardie dae) taamlik skamel geklee. Uithangboesems en stywe broeke, maar niks wat Miley Cyrus sommer in ‘n japtrap op kan verbeter nie. “Hene,” het my ma gehyg toe ek meelewend saamskree tydens een van hierdie Star Wars oorloë. “Die vrouens is verskriklik kaal my kind!” Van toe af mag ek net oorlog gekyk het een keer elke twee weke. Ek kan met ‘n ope gemoed getuig dat ek tot vandag toe nog geen affiniteit toon vir pornografie nie. Maar ek pes onbetaalde kommentators as ek na vermaaklikheidsprogramme of  flieks kyk.

Gaan sulke mense ooit weg? Ja. As jy hardloop dat hulle net jou hakskene sien. Kry tekkies, baie vining.

My een dogtertjie was so  drie jaar oud, toe ons eendag ‘n publieke kleedkamer bestorm het in groot nood. Sy het die oop deure so staan en bekyk, en toe met ‘n agterdogtige frons op haar voorkop gesê: “Mamma, ith hier nie sakaboelath nie?” Toe ek haar vra wat íth ‘n sakaboela, val sy my ongeduldig in die rede met: “‘n Thkelm van toiletplekke man!” Cornelius by die speelgroepe het haar vermaan dat mens in Natal bedag moet wees op Sakaboelas in ablusiegeriewe. Dankie Cornelius.

Want dis presiés hoe ek voel oor swartgallige mense. Toiletskelms, almal van hulle.  Hulle sien die onwelriekende donkerbruin kant van ‘n situasie raak, en gooi bollie op almal se feespoedings.

Wat is die resultaat van ‘n lewe saam met mense wat vreeslik, maar vreeslik bang is om iets oopbek te geniet? Mense wat altyd eers “nee” sê en die rampspoed in ‘n situasie analities visualiseer voor hulle iets doen? Eenvoudig, vir my altans – totale, beneukte ongeduld met sukkelaars en besluiteloses.

Dis by my ‘n beginselsaak dat ek eers sal uitwerk hoe ek iets kan doen, voor ek dink hoekom liefs nie. En dan stuur ek die “liefs nie” terstond maan toe. Is dit regtig nodig dat ons lewens besaai bly met Swaarmoedige Sooibrand-Burgers van die Land van Geen Vreugde?

Die tweede resultaat is om doodeenvoudig diegene uit te sny uit jou lewe wat jou alewig met die negatiewe begroet. “Waar wás jy?!”(Skuus, het jy vir my horlosie betaal?) “Dit spook in ons huis.” (Tata, jy lyk vir my na ‘n psigopaat, ek en my eie familie is klaar  LEKKER mal. Jaag jou eie spoke.) “Jy benader my verkeerd, jy is so konfronterend!” (Ag ok man, ek sal nooit onverwags in die donker op JOU spring nie, hoor. Jou geluk is so pas uit soos vry in die konsistorie.)

Dit bring my terug by Nataniël, die “snaakse” kindjie met die dik beentjies, wat gehuil het as sy predikant-pa vir hom jelliepoeding koop by die  kerkbasaar, want hy eet nie goed wat dril nie. Ek voel ook so. Nie oor die dril nie, oor die feit dat ek ‘n snaakse kindjie is. Lekker bly en snaaks, en ekke is enetjie wat vreemd gaan bly. Met of sonder sateliet aan my bene, weens die oormaat van gebraaide appertiltjies wat ek eet as ek Erlemo toe ry. So se my tweeling. Want ek dooi liewer voor ek water op iemand se blygeit gooi.

My relaas laat my nou dink aan goeie, plat-op-die-aarde raad, wat my onspraaksame Pa my gegee het. In my prille jeug het het ek by hom loop kla  oor mense  en hulle verfoeilike persoonlikhede. “My kind,” het hy gesê, “jy kry drie soorte mense. Konings, prinse en poepôlle. Besluit tog waarmee jy deurmekaar is. Toe spoeg hy ‘n lang-grassie dat hy dáár trek.

So, vir eers, cheers aan alle sakaboelas en poepolle.

En vir die wat sê die kat kom weer: Mag dit ‘n vrolike, bont krismiskat wees hierdie jaar. Propvol vrolikheid, lekker lag, en groot glimlagte van entoesiasme.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Stryd teen die Bottel.

186

Liewe magtag, is daar iets wat meer irriterend is as ‘n kind wat hoes en hoes en hoes en hoes!? Kyk mens kan medisyne koop en stroop injaag en nebulize en fumigate en noem dit… maar sal die verkouekieme wyk? Nee satan bly. Verbete veg die swernoot vir ‘n plek in lugpype en monde en neuse en kele. En hoekom? Want dit hou die wereld-ekonomie aan die draai, en die mediese fondse welvarend.

Verkoue-kieme, veral Natalse verkoue-kieme, weet ‘n moedelose ma gaan erens moere strip en ‘n Alpha apteek leegkoop tot haar finansies in sy omega in is. Geirriteerd omdat ek nie kan werk en na ‘n neulery en hoesery gelyk kan luister nie, gooi ek kookwater in ‘n pot en laat die kinders die stoom inasem. Ek wou sê “stoom die kinders” maar netnou gee dit julle die idee dat ek hulle dalk wou gaarmaak. Uit pure irritasie. Die stoom help vir vyf minute, totdat hulle kermrig raak oor oorfone wat hulle nie kan kry nie. Dammit, in my dae was ons siek SONDER om die oumense te pla. Anders het jy ‘n warm pak EN ‘n toe neus gekry. Wat my nou laat onthou….

As kind het ek ‘n paar unieke bygelowe van my eie gehad. Die eerste was dat die duiwel agter in my boetie (en my ma) se hare gesit het. As Oupa tuinwerk gedoen het of vir Ouma plante geplant het, en hy loop om die graaf te gaan haal, het ek altyd vir haar gesê: “Ouma, hoekom glimlag Oupa se agterkop as hy vir jou iets doen?” Oupa was so gelukkig saam met Ouma, jy kon die blydskap tot agter in sy nek sien. Maar wee die dag as Charl laat hare sny het. Sodra hy van die haarkapper af gekom het, was hy in ‘n ommesientjie die duiwel vanself. Ek het nou onlangs verneem dat dit blykbaar in die familie loop – ‘n foto van my pa op facebook en ‘n vertelling van my tante bevestig dat ons ten minste nie moet sien wat iemand met ‘n skêr op ons koppe aanvang nie. Ek myself blom natuurlik as ek by die haarkapper was.

Die tweede bygeloof was dat Saterdag net so goed Blou Saterdag kon wees. Liewe magtag, hoekom het my ouma op ‘n Saterdagmiddag vir ons beef-patties en baked beans gemaak saam met gemengde groente? Wanneer dit so warm is dat die bure se huis-kraai gaap en mens nie eers lus is vir vrugteslaai nie? En Saterdae was wasgoed-was dag. Dan was al die duiwels uit met my ma, wat dit absoluut gehaat het om huisvrou te wees. Self het ek die probleem maklik aangespreek: Mens wandel net vroeg Saterdagmore af dorp toe, koop ‘n nuwe soort vloeibare wasgoedseep, en probeer ‘n nuwe Sta-Soft. Siedaar, als ruik lekker en is lekker.

Dit bring my by my derde bygeloof. Hierdie is ‘n ware oortuiging, en niemand gaan my daarvan laat afwyk nie. Die oortuiging bestaan uit punt a en punt b. Punt a is: Die ergste slegste siekte wat mens kan kry is om naar te wees. Die valoïd suppositories en pille pryk trots in rye in my medisynekassie. Opgooi is vir ape. Baie, baie nee dankie. Punt b is dat loopneus en seerkeel erger as ‘n meisie-probleem op vakansie is. My boetie mag beneuk gewees het as iemand sy hare sny, maar  ek ontaard in ‘n trol as ek verkoue het.

Op ‘n sekere reënerige Saterdagoggend, terwyl Ma beneuk en onplesierig wasgoed was (ja, want ons het daai tyd nie ‘n tuimeldroër gehad nie en moes als op hangers in die huis ophang), is ek en my broertjie toe so bevoorreg om verkoue te hê.  En my ma het uit pure radeloosheid met verkoue-kinders en reënweer, ‘n pak liquorice op die kombuisblad gesit. LANGS ‘n bottle Benylin hoesstroop. As ek reg onthou het die hoesgoed daai jare nog ‘n teddiebeer of iets opgehad. Dit het in alle geval VERSKRIKLIK mooi gelyk, goed om van te drink en ‘n plesier vir die sintuie. (Jissie, is ek nou deurmekaar met die boom van kennis van goed en kwaad??? Ek dink so.) Omdat ek toe dik is vir my gehoes en gesnuif, neem oulike, selfstandige ek toe gou een lepeltjie stroop. En voer sommer vir my kleinboetie ook. Toe druk ek ‘n liquorice in ons monde, en vermaan hom ernstig en formeel om stil te bly.

Ons twee het so gelyk na mekaar gekyk, en kon die waarheid diep en duidelik in mekaar se oge lees: “Die goed is verskríklik lekker.” Ons het gaan lego speel, en toe Charl na ‘n wyle meld dat hy weer las het van ‘n hoes, het ek natuurlik ook gevoel dit pak my nou ook beet. Ons het gou weer ‘n draai geskiet verby die bottel en die swiets, en weer gaan speel. (My ma was altyd baie begaan oor die feit of ‘n mens se asem vars of onaangenaam was – ons twee het sommer instinktief geweet ons moet die hoesstroop-reuk verbloem.)

Nodeloos om te sê, die stroop het die hoes klaarblyklik met rasse skrede laat vererger. So erg dat ons naderhand elke paar minute ‘n happie moes neem om die gekug te bekamp. En so kry my ma ons twee: Dik deur die mis, driekwart aan die slaap en ontsettend uitgeput van die griep. Ons lê sommer op die mat tussen die Lego-blokkies, want LE is die kernbeginsel. Sy was nie stjupit nie, ok, en sy gaan kyk toe gou. Jip, tussen Boet en Sus het hulle lag-lag ‘n bottel Benylin gefienies. Ek onthou vaagweg dat sy iets gepraat het van sterk koffie en die ambulans, maar ek en Boeta het vrede gehad. Ons was ‘n dag en ‘n nag uit soos kerse. My ma het die toets geslaag: Sy het nie albei haar kinders aan oordosering verloor nie, en sy kon ‘n krisis met dwelmsugtiges oorleef.

Benylin was nooit weer in ons huis beskikbaar nie.

Dit is en bly my geliefkoosde hoesstroop, en as ek siek voel, neem ek met matigheid ‘n lepeltjie. Baie graag, kan ek byvoeg. Dan maak ek terstond die bottel toe, en steek dit ver, vér weg vir my kinders. En vir myself.

Wat my nou skielik laat besef: My kinders het vir twee ure nie gehoes nie!!! Miskien is dit tyd om te gaan kyk waar het hulle die medisyne gebêre…

Dis heerlike Lente

tumblr_lt6guz2yna1qc3r7vo1_500

Aangesien my familie so openlik hulle gevoelens omtrent Lentedag op ‘n webwerf kan bekendmaak, mag ek seker ook ‘n beurt kry. Let wel: Ek was van plan om ‘n diep storie oor seisoene te skryf en dan te filosofeer, maar die gedagte om sekere lede van my familie in blomrokkies en sandaaltjies te sien kniebuiginkies maak, het my nou min of meer asmaties.

Hier in ons dorp het dit nog nie gereën nie. Ok, ek jok. Dit het baie EFFENS gereën. Met die gevolg dat vreeslike gerugte die rondte doen: Oor twee weke het Vryheid nie meer water nie, daar waar die dam is is nou net woestyn, die visse loop al omdat hulle nie meer kan swem nie. Ek wil nie weet of dit die waarheid is nie, nee. Met ‘n baie geldige rede. Ek is van nature bedeeld met die geloof dat die Here sal voorsien, do not stress. Hartjie-my-liefie is ietwat meer melankolies en geneig om te bekommer.

Vreeslike verskillende dinge ontstel my en my eggenoot. Ek dink dit sou veilig wees om te sê dat ons min of meer presies mekaar se teenoorgesteldes is. Hy is gepla oor beleefdheid. Dit pla my min. Hy is ‘n dominee se kind, my pa is ‘n tuinargitek. Sy kleertjies is altyd netjies en skoon en sy hande mooi glad om goeie fotografie te kan doen. My naels is kort gesny soos ‘n seuntjie s’n, want ek plak en verf en djol met my honde. My hare is kort en as ek gelukkig is om te onthou kam ek dit voor ek met die hond gaan draf. Sy hare is “geskik”. Netjies.  Hy vloek net in my geselskap; ek vloek presies wanneer die geleentheid dit regverdig. Dis hoekom ‘n student amper flou geword het omdat ek in ‘n klasaanbieding openlik gepraat het van ‘n vloermoer.

My LewensLiefde het in hierdie Lente van sy Lewe homself die water-situasie vreeslik aangetrek. Jy sien, vir my is dit maklik. Die vrouens in die huis (ons is vier) moet maar net in mekaar se water bad. Siedaar, ‘n groot besparing. Niks van ‘n krisis nie, jy moet net jou alie roer en vining bad. Jou naasbestaandes wil ook warm water hê. En om hemelsnaam sorg dat jy nie elke aand laaste op die rooster is nie. Nou kyk, ek het baie, baie respek vir my man se sienings. Hy is, after all, die een wat goed opgevoed is tussen ons twee. Ek laat die kinders toe om platanna-video aande te hou en almal bring hulle paddas om te kom oorslaap. (Terwyl hy The Corr’s luister op sy oorfone en nie ‘n oomblik verwyl op ons troeteldiere se verspring-kompetisie nie.)

Wat my uit my Lentedans-bui boelie, is die feit dat ek op hierdie Lieflike Geleentheid my toilet moet spoel met my badwater. Hartjie het die Groen Emmer langs die bad gesit, en by die kinders die Wit Emmer. Sonder om te veel te dink, kan julle sommer so uit julle koppe vir my sê hoeveel keer gaan ‘n kind ‘n toilet spoel as sy eers ‘n emmer moet ophys uit ‘n bad?!

Net voor lentedag het iemand toe per ongeluk die heel boonste deksel van my toilet afgestamp (want hulle verstaan nie dat afval wegspoel as jy die water sommer in die spoelbak gooi nie). Ek kon nie daaroor baklei nie, hulle het probeer fluks wees. Maar nou het ek ‘n trippele ongerief. Die eerste hiervan is dat ek nie my selfoon agter my op die troon kan neersit as ek gaan sit nie. En die bleddie ding moet ek saamkarring, want kliente bel wanneer hulle wil. Besef julle dat ek op lentedag my kantoorfoon divert na my selfoon het om te gaan piepie by ‘n gerief sonder ‘n gerieflike deksel???

Die tweede ongerief: Laas week kom Stefaans hoogs in sy noppies by my. En kondig aan dat ons sowat drieduisend liter water bespaar het omdat ons ons uitskeidings nou met tweedehandse bubblebath-water wegspoel. Ek wou iets sê in die lyn van dat ek glad nie sleg voel nie, ons tuin kry nooit water nie, maar toe bedink ek my. Raai wie is die een wat die tuin sal moet gaan natspuit. Cut your nose to spite your face.

Dit bring my by die derde ongeriefie. So bevind ek myself toe op hierdie fantastiese, heugelike dag in die middel van ‘n papnat gemorste badkamervloer. Want Emmer Een lek. Sy konstitusie kon nie meer as ‘n maand hou met die hande-arbeid nie. My drie bull terriers het ingehardloop gekom want hulle drink water uit ‘n reinwit bak in die hoek. Fantasties. Die vloer lyk soos ‘n hok by die SPCA. Ek stap na die kinder(gaste)badkamer. Dit kom voor asof dit ‘n weermag-latrine kan wees. Ja, reg geraai. Hulle het gister voor die skooltoer alle besigheid afgehandel, en dit aan ma oorgelaat om die sluise oop te draai.

Net na twaalf is my man reeds een-en-n-halfuur, sonder tussenpose, op die foon. Hy is besig om ‘n staking by ‘n maatskappy te ontstaak, en presies op 1 Augustus het ek gehoop dat ons teen 1 September van die blessitse problem ontslae sou wees. So in my reiniging van die ablusiegeriewe, hoor ek boonop die kantoorfoon lui. Dis wanneer my foon nie lui nie. Die duiwel is mos los.

Twee-uur voel ek depressief. Vreeslik, vreeslik grys. Ek het my al lam gestudeer deur die oggend, o ja en ek het vergeet om te noem dat die pype in die kombuis verstop het. Fikile vat toe die toetermejoeletjie en druk warts! warts! in die wasbak sodat die water kan deurvloei, en sjor spuit dit als by die wasmasjien se pyp uit. Fantasties. Dis droogte en my kombuis is ‘n doopbad.

Vieruur is ek na ‘n vriendin toe. En terwyl ek by haar sit en vertel hoe grys ek van binne voel, (amper soos ou waswater), sien ek haar naels. Spiekeries, spiekeries. Die ene blinkertjies en als. Toe onthou ek sy dóén naels. Net daar maak ek ‘n afspraak vir moreoggend tienuur. Ek gaan nou my kommingeit laat staan, ek gaan nou ook verfynd wees. My vinger -en toonnaels gaan gedoen word, . Dan sal ek dadelik nie meer soos ‘n tor voel nie.

Sing-sing ry ek huistoe.

Dis heerlike lente, man, dis tyd om te tittewyt en mooi te lyk!!

Drienkie se Boom

Drienkie sit in die lukwartboom. Van daar af het n mens n lekker uitsig, en mense soek nou nie juis kinders in lukwartbome nie. Dis stowwerige goed en laat onwelkome grootmensagtige grootmense nies. Sy en Boeta het n goiingsak in die boom opgetrek met n tou, en Boeta het daar ingeklim en afgespring.  Drienkie was veronderstel om die tou  vas te hou sodat Boeta mooi  tussen hemel en aarde kon hang. Hy wou in die sak hang en soos Mario Lanza sing, maar haar arms was bietjie dun, en hy het geploeg dat die stof so staan. Gelukkig is niks gebreek nie, en hy sit nou weer saam met haar en kyk vir die wereld met ‘n lollipop in sy mond.

Wat is die doel daarvan om in ‘n boom in te klim? Eenvoudig, natuurlik. Om dinge te kan sien en nuus uit te ruil. Boeta sê: “Kyk vir Piet en Lientjie. Hy loop nog steeds met verbande.” Drienkie kyk, en wragtag, Piet lyk soos ‘n paashaas. “Wat het gebeur?” vra Drienkie. Die sherbet is besig om uit haar lolliepop te borrel, en dit fassineer haar. “Sy ma het hom tandarts toe gevat,” sê Boeta alwetend. Hy is nog nie in die groot skool nie en hy weet als van als, want hy word nie in ‘n groen rokkie agter tralies aangehou vir ‘n halwe dag, elke liewe blessitse dag nie.

Amper val Drienkie uit die boom. Tandarts?? Haar ma het gesê sy moet gaan vir ‘n operasie, want haar voortande het ‘n gleuf in. Erger as TD Jakes s’n. En die liewe oom Tandarts het gesê sy hoef nie hospitaal toe te gaan nie, die dokter sal haar ma moeite spaar en dit sommer in die spreekkamer doen. Sy is skielik glad nie lus vir die storie nie.

“Hoekom staan Lientjie se mond so dik?” vra sy terwyl sy die lolliepop skuif na haar ander kies. “Want Piet het haar dwarsdeur die bek geklap,” vertel Boeta kontant.

“Jy mag nie sê bek nie,” vermaan sy sussie. “Mens sê mond.”

“Ja maar hy skree altyd vir haar hy gaan haar deur die bek klap.”

Drienkie is verstom. Vandat sy skool toe is, het dinge hier by die huis baie verander. As sý iets so eerlik oorvertel het, het haar ma haar sowaar ook ‘n klap gegee.

Mens kan mooi sien uit die boom. Dis ook nie ‘n wonder nie, want Piet en Lientjie se ma is nie sterk op die ding van gordyne voor ‘n venster hang nie. Haar oë word so groot soos pierings. Lientjie staan en opgooi in haar kamer, en haar ma en al die baie ander kinders skree, en haar ma klap haar warm en skree iets van ‘n pot, en daar staan arme Lientjie en huil en opgooi in die pie-pot.

Sy is nog nie eers mooi klaar gekyk nie, toe kom Piet se pa aangejaag op sy fiets. Hy het ‘n papiersak in sy hand en vreeslike groot knieë Hy gooi die fiets sommer net so voor die huis neer, en storm in en skree vir Lientjie sy moet ophou kots hier is medisyne. Liewe genade. Haar ma sê dis net verpleegsters wat praat van kots of braak, en dit klink so aaklig, dit sit haar ma al klaar aan die braak. En hoekom kan Lientjie nie maar sonder ‘n klap en agter ‘n gordyn opgooi in die toilet nie?! Nee iets is baie verkeerd by daai huis.

“Wat se werk doen die Oom?” vra sy haar lokale informasie-agent. “Hy is die posman”, sê Boeta. “Hy sê “Hallo oom hallo tannie” vir almal wat jonger as hy is, en hy sê hy gaan die verdomde honde vrek maak wat sy baaisiekel se taaiers byt.”

Drienkie val amper uit die boom uit. Sy weet haar pa gaan daai oom tot in die kleinhuisie agter sy huis in slaan as die oom net vir hulle honde gaan kyk. En ma sê as mens verdomp en bliksem sê, jaag die kerk mens weg en jy mag eers terugkom as die hele kerk sê dis reg so. Oom Kerneels is een van die kerk-ooms, en hy sê nooit iets is reg nie. Boeta moet oppas want ma gaan sy mond met groen seep uitwas.

In alle geval moet Drienkie haar gesig gaan was en gaan tande borsel, want sy moet tandarts toe. ‘n Skoon rok aantrek ook. Ten minste gaan Boeta saam.

Haar ma sê hulle moet stap soontoe, en gedweë val sy in die pad. Pa leen nie sy kar vir ma nie, so waar hulle wil kom, moet hulle met hulle voete kom. Sy het nou die dag probeer toe-oog terugstap van die biblioteek af, en toe loop sy voor ‘n motor in. Haar ma het gesê sy is droomverlore, maar sy was besig om met Jesus te praat en vir Hom te vra om haar die pad te beduie as sy nie kan sien nie. Niemand weet dit nie, maar elke storie wat sy in die aand uit die Bybel hoor, gaan toets sy uit in die dag. Sy is heilig oortuig sy het nou die aand drie tree op die water geloop in die bad, toe kom haar ma ingestorm en skree dat die kind geval het en dat sy haar nek kon gebreek het. Nou moet sy sit en bad. Flip.

Die tandarts-mense maak die deur oop. ‘n Tannie met sulke hoë hare en grasgroen poeier op haar oë sê sy moet by ‘n kamertjie gaan wag op ‘n bankie. En nee, sy is nie ‘n baba nie, haar ma moet voor bly wag. Boeta kan saamkom. Sy en Boeta kry Taai Tandjie stelle. En toe begin iemand skree. Verskriklik skree. En die tandartsoom skree saam.

Drienkie en Boeta vlieg op. Hierdie plek is nie die tande-kliniek nie, hier is mal mense soos die  “Haba haba Jo Jo” outa wat loop en skree as hy bottels soek. Haar ma kom in die gang afgevlieg om seker te maak dis nie haar kind wat so amok maak nie.

“Wat is dit?” fluister sy grootoog vir Boeta.

“Dis Lientjie”, praat die oom met die witjas skielik langs haar.

“Sy wou nie stilsit nie, en toe druk ek die naald dwarsdeur haar wang tot op die kussing.”

“Gaan in!!!” Haar ma druk haar in haar rug. Boeta moet bly sit, want netnou skrik hy as hy bloed sien. “En jy sit stil, HOOR!!!”

“Want die oom trek al jou tande verniet!!!”

Untitled